|
|||||||||||
|
| VIND: |
Boeke
Boek vir die manne . . . maar met intertekste
28/06/2009 06:36:54 PM - (SA)
Fiksie
DIE ANDER VENNOOT
P.J. Haasbroek
Op pad terug van Johannesburg sit ek langs Germiena Groenblaar, die bekende feminis. Sy lees P.J. Haasbroek se nuwe roman, Die ander Vennoot.
Ek is sopas klaar daarmee.
“Wat dink jy hiervan?” vra sy.
“Haasbroek se boek val in drie dele uiteen. Anders as Patrick White se The Solid Mandala.
“Die storie van Herklaas Pretorius en John Heckrodt, in die ou Suidwes. Stories oor ’n beesplaas, mooi beskrywings van die natuur, ’n ametismyn en safari's.
“Dan ’n beskrywing van die strugglejare en hulle entrepreneurskap. En ’n blik op geweld en swart ekonomiese bemagtiging.”
“Ja,” sê Germiena, “die man kan die natuur raak beskryf. Hy weet kennelik baie van die veld. Maar vaderland, moet ons lees van presies hoe hy sy karakter van ’n sweetpak laat ontslae raak en ’n vrou bydam? Of hoe ’n hings ’n merrie bestyg?”
“Kyk, Germiena. As ons Antjie Krog en ander vroue se lyflike detail mag beleef, kan ons sekerlik ook die machoblik verduur, nie waar nie?”
“Ja, die maskuliene aanslag het waarskynlik sy plek in die letterkunde, maar wil ek lees van ‘die verpleegster met die tollende tiete’, soos John ’n vrou op bladsy 222 noem? Of die manlike geslagsorgaan as ’n soldaat ervaar?”
Ons sitplekgordels is nou al vas.
“Germiena, ek hoor jou. Maar dis hoe sulke karakters dink en praat.
“Kyk byvoorbeeld na die feit dat die karakter as Pretorius droom van Martia en nie as Herklaas nie.
“Dis ’n boek vir die manne dié. Jy sien dit in vele vinjette: die braai van ’n koedoefilet op gloeiende kole.
“Met ’n dik sny bruinbrood en botter smaak dit vir hom lekkerder as enge biefstuk in ’n snobrestaurant in Pretoria.
“Daar word baie gesmul en brandewyn gedrink in hierdie boek.”
“Ja. En die manlike blik op die vrou in die gimnasium. Ons het beslis ’n ‘male gaze’ hier.”
“Dis ’n boek wat kommentaar lewer op geldmaak: ek dink jy moet dit lees saam met Carel van der Merwe se Geldwolf / Shark en Jaco Kirsten se Om na ’n Wit Plafon te Staar.
“Dan kry jy ’n beter prentjie op ekonomie en die kommentaar op swart bemagtiging wat die roman wil maak, Germiena.”
“Ja, die negatiewe kommentaar op ‘Tswane’ in die derde afdeling bevestig dit. Plaasmoorde. Geweld. Gierigheid. Diefstalle.”
“Haasbroek was op sy dag ekonoom, jy sien. Maar hy is ook ’n closet-digter. Sy Heupvuur, ’n kortverhaalbundel, werk met kragtige metafore.”
“Wat probeer jy sê? Dat hy eerder kortverhale moet skryf?”
“Daar was al drie romans vantevore. Hy het ’n lang asem.
“Dit gaan eerder oor of die tema van die politiek en ekonomie vir die leser boeiend is.
“Soos: Verkies jy Moby Dick bo Fear of Flying?”
Die lugwaardin bedien koffie. Dis nog te vroeg vir polisiekoffie.
“En is daar intertekste?”
“O ja, vele. Herakles, die seun van Zeus, wat deur koning Euristheus 12 onmoontlike take opgelê is. En jy as leser moet dan hierdie verwysingsknoop maak en besef Herakles speel in op Herklaas.
“En daar is toespelings op James Bond, jy weet. Diamante wat gesteel word deur ’n boef.
“Martia verwys na ‘Oktobermaand, die mooiste aand’.
“Gaan kyk net wat alles gebeur op bladsy 304. Dorslandtrekkers. My boek sit vol donkie-ore.”
“En die Moldau wat soos ’n rivier vloei – wat weer inspeel op die Kunene en die Gariep.”
“Germiena, wat maak jy van die slot? Dit is oop; verskillende interpretasies is hier moontlik.”
“Ek het iewers gelees dit het ’n Afrikanerbond-prys gewen.”
“Dit is die 300-jaar-Africander-prys.
“Die uitgewer het glo verkies om dit nie op die agterblad te vermeld nie.”
“Hoekom nie?”
“Glo om polities gevoelige lesers nie af te skrik nie, Germiena.”
“Ja, wat ’n karakter sê – ek dink aan die raspejoratief van ’n karakter in ’n toilet – kan seker nie op ’n outeur se rekening gesit word nie. Of kan dit?”
“Germiena, gun elke diertjie syn ou plesiertjie. Die werklike skrywer skep karakters hier wat hul blik gee op die oorgang van die ou Suid-Afrika na die nuwe Suid-Afrika.
“Van Suidwes na Namibië.”
“Ken jy die woorde van die Suidwes-lied?”
“Germiena, ons gaan binnekort land.”
) HUMAN & ROUSSEAU, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 319 BLADSYE, ISBN 9 780 79815 041 5.)
) JOAN HAMBIDGE IS PROFESSOR IN SKEPPENDE SKRYFKUNDE AAN DIE uk.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |