|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Loftus Marais Foto: michael hammond
Boeke
Gedigte vir die kykers
14/01/2009 05:57:22 PM - (SA)
Loftus Marais trek sy neus effens aanstellerig op, ken in die lug met ’n stemmetjie wat spot oor woorde soos “eie werklikheid”, “esoteries”, wat die digkuns hogere kuns wil maak wat net sommige beskore sou wees – “asof ’n mens vir poësie meer breinselle nodig het”. En oor die romantisering van dig het hy ook nie veel erg aan nie, want “jy skryf nie vir die dieperes nie; jy skryf eintlik maar vir jouself”. En, sê hy, hy sal ook nie iets diep soos: “Ek glo die gedig skryf vir jou” sê nie. Want dis te veel van ’n romantisering – “met ’n hoofletter R”.
Sy renons in ’n oordrewe romantisering van die digkuns klink soos die uitdagende houding in die slotreëls van “Wederkoms”, wat in sy onlangs verskene debuutbundel, Staan in die algemeen nader aan vensters opgeneem is:
en wanneer ek voor Hom moet staan
sal ek verwyfd curtsy
en Hom netjies verduidelik
dat my catsuit
(opgevou in die groot tas langs die vanity case)
fire-resistant is
Daarmee saam skemer ’n tikkie rebelsheid deur wat meen poësie is kuns vir die onopgesmukte massas, iets soos in “Die digter as rockstar”:
ek breek my versreëls oor julle koppe soos guitars
en:
ék het nie ’n beiteltjie nie
ek het ’n fokken lugdrukboor
Maar anders as die sondaar in sy “catsuit” en die rocker in sy “studded leather broek”, blyk die 26-jarige Loftus Marais in sy T-hemp hier oorkant die tafel ’n doodgewone kyker na die wêreld te wees, soos die bundeltitel ook suggereer – en wat veel sê oor waarvandaan sy gedigte kom.
In sy gedigte is vindingryke woorde en frases wat briljant die alledaagse klee in blink catsuits en leerbroeke. En soos die digter Zandra Bezuidenhout in haar resensie van die bundel skryf, is dit die “vars en bedrieglik naïewe kyk en die verbeeldingryke visie-met-ironiese-afstand wat jou bybly”.
Só beskryf Marais die vuur in hom om te dig: “Dis ’n tipe energie wat jou laat jeuk en krap totdat jy dit moet neerskryf. Ek haat dit om die woord te gebruik, maar dis organies.”
Gedigte is vir hom “ ’n stuk gekondenseerde taal” wat hom ook toelaat om ander gedaantes aan te neem (’n tuindwerg of tuinier) en hom in staat stel om “ventriloquist te speel”, maar dis iets “waarmee jy stoei” totdat dit reg voel.
Dit bundeltitel gaan vir hom oor meer as kyk, want die venster suggereer ook ’n kamer, waarvandaan gekyk word: “Dit gaan ook oor hoe jy die venster opdress, met hortjies of gordyne. Skryf gaan oor kyk, ook na die skrywer self; daar is net ’n graadverskil tussen kyk en skryf.”
Al vind jy ’n groot mate van vryheid in sy digkuns, sê hy hy gaan ook teoreties te werk, iets wat veral ingeskerp is tydens sy MA-studies in kreatiewe skryfkuns onder Marlene van Niekerk aan die Universiteit Stellenbosch.
Vorm en struktuur praat ook; dit moet funksioneel wees en die boodskap oordra. “En soms is die vorm iets wat sê ‘fok jou’ vir die sonnet”. Aan die vier dele (ruimtes) van die digbundel is ook fyn gedink: studentedorp, voorstad, stad en plaas. En om die volgorde te laat vloei, “was soos om ’n Winamp-playlist op te stel; dit vat tyd”.
Skryf, dink hy, was nog altyd in hom, want sy ma het onlangs ’n Sub B-skryfboek van hom gevind waarin hy moes neerpen wat hy eendag wou wees as hy groot is: “Ek’t geskryf ek gaan Wimbledon wen of ’n skrywer word, want hulle maak baie geld. Vele mistastings daar . . . Die skryf is nog daar, maar die tennis het getaan,” spot hy. Daar is natuurlik nog baie dig in hom – hy is obsessief oor Kaapstad en wil soos Stockenström en Krog dié stad in verse besing.
Boonop speel hy saam met ’n span energieke digters op die Afrikaanse poësieveld: “Ronelda Kamfer, Danie Marais en Carina Stander laat my voel of ek in ’n span speel. Ek’t laas in standerd vier so gevoel toe ek rugby gespeel het, maar toe vir my ouers gesê het ek wil eerder My Little Pony op TV kyk.”
Maar dan is daar die Vereniging Serebraal Verlamdes van die Wes-Kaap se kreupelmeisie-geldbussie wat ’n mens altyd by winkeldeure sien, wat hom woordeloos laat. “Ek wou nog altyd ’n gedig oor haar skryf, maar ek kan nie eens ’n naam vir haar opmaak nie. Sy is ’n kunswerk op haar eie. As ek eendag ’n miljardêr moet wees, sal ek ’n moerse standbeeld van haar oprig.”
En as ek hom vra wat hy anders doen as dig en werk by NB-Uitgewers, tuur hy so en dink. Net toe ek ’n leerbroek-en-catsuit-antwoord verwag, sê hy: “Ek’s mal oor rolprente, en ek hang met vriende in Kaapstad se dodgy plekke. Maar dis nou nie asof ek gholf speel of so iets nie.” Die digter as kyker.
) Op 29 Januarie om 19:00 lees Marais gedigte uit sy bundel voor in die Breytenbach-sentrum in Wellington. Skakel 0 021 873 2786.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |