Webwerf Foto's
Argiewe Netads
WEER » Kaapstad 21º / 26º | Worcester 18º / 38º | George 20º / 38º | Port Elizabeth 22º / 32º Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com
TUIS NUUS SPORT VIDEO FOTO'S SAKE24 OPINIE BRIEWE BLOGS
VERMAAK BOEKE SPOTPRENT PEILINGS NETNAWEEK MOTORS STYL REIS BY
LANDBOU LESERSFOTO'S WÊRELDBEKER 2010 VIND: MOTORS POSTE EIENDOM
VERSEKERING
Spaar by OUTsurance.  Kliek hier vir huisinhoud-, besigheids- en motorversekering.
Die boek Mama Taxi is van volgende week op winkelrakke.
Die boek Mama Taxi is van volgende week op winkelrakke.
Kuns
Toet-toet!
23/10/2008 04:57:46 PM - (SA)

Soms wérk iets net.

Dit is sonder twyfel die geval wanneer ’n mens met Deni Brown en Gavin Tomson gesels oor hul produk Mama Taxi.

Deni vertel dat die hoofkarakters van dié strokiesprentreeks, Mavis en Zandi, eenvoudig in haar kop verskyn het.

En Gavin benadruk dat die sketse soms bloot uit die pen vloei. “Jy weet wanneer dinge werk of nie.”

Hulle twee werk goed saam, só goed dat Mama Taxi vandag in etlike koerante oor die land verskyn en volgende week in boekformaat op die rakke is.

Volgens Deni het die idee vir Mama Taxi reeds ses jaar gelede by haar ontstaan. In daardie stadium het sy dit saam met ’n ander illustreerder getoets, maar dit het nie uitgewerk nie, en sy het dit “teruggesit in die kas, saam met ’n hele ander paar planne”.

Vier jaar gelede het sy besluit die tyd is reg en haar gewend tot die People’s Post, wat op soek na ’n illustreerder was. Die redakteur het haar met dié koerant se spotprentkunstenaar in aanraking gebring. Die twee het onmiddellik van mekaar gehou. “Ek het net geweet ons is op dieselfde golflengte. En hy snap regtig wat ek bedoel,” verduidelik Deni.

Hulle het aan die werk gespring, en The Citizen was die eerste koerant wat die strokie gepubliseer het.

Vir albei is dit nou ’n heeltydse werk, iets wat hulle baie besig hou.

Deni, voorheen ’n rock- ­musikant, beklemtoon dat dit regtig harde werk is om ’n plek in die strokiesprentbedryf te kry. Die rede hiervoor is dat opkomende en plaaslike strokies moet meeding met gevestigde strokies soos Garfield (Stoffel), Peanuts en byvoorbeeld Calvin & Hobbes – oorsese, gesindikeerde produkte.

Gavin, wat in die advertensiewese gestudeer het en reeds ’n hele ruk as illustreerder werk, erken dat dit ’n opdraande tog was. “Dit is moeilike omstandighede wat ’n mens nie eintlik wil betree nie, want as jy in ’n koerant plek kry, is dit in die plek van iemand se ou gunsteling-­strokie; dan hou hulle jou vir die verandering verantwoordelik.”

Mense raak immers geheg aan die doen en late van Seppie, byvoorbeeld. Maar hulle is hier; hulle het dit reggekry. “En ons is baie dankbaar vir die plaaslike koerante se ondersteuning,” beklemtoon Deni.

Hul werkproses is gegrond op ’n heen-en-weer-stuur van idees tussen hul onderskeie werksplekke.

Deni sal die idee vir die spesifieke strokie uitdink, die dialoog uitwerk, rofweg skets en dan aanstuur na Gavin, wat dit volledig skets. Hy stuur vir haar ’n voorskou terug, en volgens Deni kom dit altyd beter terug as wat sy verwag.

Sy weet ’n spesifieke strokie sal goed werk as Gavin se voltooide produk haar laat glimlag.

Aan idees vir die strokie is daar nie ’n tekort nie. Deni put inspirasie uit “gesprekke wat ek hoor, die media, dinge wat langs die kant van die pad gebeur”. “Ek ry rond met ’n aantekeningboek op my skoot,” vertel sy laggend.

Soms kom die idees só vinnig dat sy daarmee op loop gaan en dan sommer vir Gavin ’n week se strokie-sketse op een slag kan aanstuur.

Dit is ooglopend dat Deni haar karakters geniet. “Mavis, die getroude vrou wat die taxi bestuur, is plat op die aarde. Aan die ander kant is Zandi, haar suster, meer lighartig, altyd op soek na ’n man, altyd met ’n klomp wilde idees in die kop.

“Zandi gee dan natuurlik vir ’n mens ’n lekker klomp materiaal om mee te werk.”

Daar is ’n hele paar ander karakters – soos Frikkie die polisieman en Vusi, Mavis se man – wat ’n rol speel (“en ander perspektiewe in die storie inbring”) en ’n paar ander wat tans nog in haar kop rondspeel.

Die doel van Mama Taxi is nie om ’n politiese spotprent te wees nie. “Die strokie lewer eerder sosiale kommentaar op alledaagse gebeure, op die netelighede van die gewone dag. Die idee is bloot om mense te laat glimlag.

“Dit gaan uiteindelik oor die lewe agter die taxi se stuurwiel, en het ten doel om mense ’n ander perspektief hierop te gee. Taxi-bestuurders is ook net mense.”

Die strokie het stadig gegroei, ’n proses wat Gavin as ’n “ongelooflike reis” beskryf. Volgens hom is dit ’n “reuseplesier om deel te wees van die ontluikende plaaslike strokiesprentbedryf”.

“Toe ek grootgeword het, was die idee van ’n plaaslike strokiesprent iets vreemds. Dit was byvoorbeeld ongelooflik om die onlangse opkoms van Madam & Eve te sien.

“Dit is ’n voorreg en ’n plesier om ons strokie in die koerante te sien. Ek hoop wel om eendag die koerant oop te maak en nét Suid-Afrikaanse strokies te sien!”

Gavin het ’n hele paar ander strokies waaraan hy werk en sê vir hom en Deni was dit ’n baie besige jaar.

Uiteraard is hulle opgewonde oor die boek se komende verskyning, vertel hy. “Dit is wonderlik om te dink dat ons iets blywends tot Suid-Afrika se geskiedenis kon bydra.”

    
VIND
Mediese Fonds
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.
Inskrywingsvorm vir 2009 se LENTE Vakansieskole
Alle graad 10-, graad 11- en graad 12-Jippers kan uitsien na vanjaar se lenteskool. Skryf nou in vir Die Burger se Lenteskool in Port Elizabeth.
Kliek hier vir inskrywingsvorm
121 dae
tot afskop
2010
Wêreldbeker 2010
VIND
Mediese Fonds
Reis & Verblyf
Kom ons kliek
Motors
Kontantlenings
Beligting
Eiendomsbelegging
Wegbreeknaweek
Musiekinstrumente
Eiendomme te huur
Leerprodukte
Buitelewe
Werksgeleenthede
Gesondheidsprodukte
Eiendomme te koop
NETADS24
Soek ‘n advertensie

Algemeen
Loopbane
Motors
Eiendomme

VIND OU SKOOLVRIENDE
Kies jou skool se provinsie:
En klik op die eerste letter van jou skool:
ABCDEFGHIJKLMN
OPQRSTUVWXYZ
ONS BEVEEL AAN
netNaweek
Nie seker wat om die naweek te doen nie? Kry elke Vrydag netNaweek.com, propvol nuus oor die lekkerste wat die Kaap het om te bied en wen hope pryse. Die gratis e-pos sluit inligting oor flieks, teater, restaurante, uitstallings, wegbreek-naweke en sommer enige iets wat pret is om die naweek te doen in.

Gaan na netNaweek om te registreer.

       
 Kontak ons | Navrae | Teken in op ons nuusbrief | Vrae oor registrasie | Adverteer | gebruikersooreenkoms |