|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Anna Davel
Vermaak
Anna Davel swing soos dit ’n regte diva betaam
02/07/2009 08:09:03 PM - (SA)
Emo Adams en Niël Rademan laat deesdae “Groen koringlande” swaai.
Ollie Viljoen en Jonny Cooper se orkes doen dit jare lank al met verskeie komposisies en is al ou hande. Sarah Theron doen dit omdat dit in haar siel lê.
Hulle swing en hulle big band en hulle jazz op maniere wat jy nie gemeen het dit gedoen kan word nie.
Boonop neem hulle ook eiegoed en plaas dit neffens groot treffers van die verlede.
Maar Anna Davel doen dit op ’n baie spesiale manier.
’n Mens wonder waar die skielike belangstelling in musiek uit die meeste van hierdie kunstenaars se ouers se tyd nou weer vandaan kom.
Jonny Cooper se big band het verlede jaar ’n hele klomp Afrikaanse liedjies verwerk en op hul album African Safari opgeneem. Daarop is onder meer “Bloemfontein se Rose” en “Zambezi” met nuwe skop en kompleet in pas met die grotes wat gewoonlik op hul program te hoor is.
Gerrie Pretorius het al ’n jaar of wat gelede die swart dassie omgestrik en ou treffers so reg in die tradisie van Frank Sinatra en sy makkers gesing.
’n Persoonlike gunsteling op enige van hierdie soort konserte is “Mac the Knife”.
Rademan vertel in ’n gesprek van die oorsprong van hierdie lied en stuur ook sommer ’n skakel waar jy op YouTube kan gaan kyk en luister na Ute Lemper wat “Die Moritat von Mackie Messer” doen.
As jy dit gesien het, gaan jy verder na haar en die musiek uit daardie tydperk soek.
Ons eie Davel is meer soos die sangeresse wat ’n mens altyd in rolprente oor die swing- en jazz-eras sien.
Hulle is divas wat die mikrofoon met ’n behandskoende hand streel en vasklem. Hulle sing met oorgawe, oë toe en monde granaatrooi.
Hulle dra gewoonlik ’n swart nommertjie wat aan die lyf gegiet is. Hulle sal jou saam met ’n sinkende skip laat sink sonder dat jy dit agterkom.
Davel se stem en die musiek op Linger Longer is soos die handskoen en die hand waarvan reeds melding gemaak is – perfekte pasmaats.
Dit maak nie saak of dit Frank Sinatra of Nat King Cole is wat eerste aanspraak op van hierdie liedjies gehad het nie; Davel het nou mede-besitreg.
Op die album het sy het ’n formidabele orkes wat saamwerk om daarvan iets werklik besonders te maak.
“Sway” se sensuele ritme en lieflike vioolklanke en meevoerende klavier en kitaar, is een van die hoogtepunte.
’n Mens wonder aanvanklik of Bob Dylan se “To Make you feel my Love” by die res gaan pas, maar dis netjies in pas met die res.
Op vanjaar se KKNK het sy saam met Ollie Viljoen en sy orkes die program Blues en Susters aangebied, ’n jazz-en-blues-program.
Wanneer Davel haar eie liedjies sing, spreek dit tot die hart.
Toe sy onlangs weer saam met Cutt Glas opgetree het, was sy weer een van die stemme, nie ’n individu nie.
Dit was totdat sy “Delta Dawn” gesing het. Vir die duur daarvan was sy die ster van die vertoning.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |