|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Adrien Brody, Rachel Weisz en Mark Ruffalo.
Vermaak
Bloom-broers fop en flous in betowerende fliek
02/07/2009 08:07:48 PM - (SA)
Rolprent
The Brothers Bloom
Met Adrien Brody, Mark Ruffalo en ander.
Selfs die broers se van klink na ’n té mooi versinsel. Die broeders is van kleins af op mekaar aangewese – die een, Stephen (Mark Ruffalo), kan ’n storie spin uit net mooi niks, en Bloom (Adrien Brody) is die sjarmante, lenige hoofkarakter in ál daardie kluitjies.
Die twee is soos ’n Siamese tweeling wat na die wonderlikste plekke rits met ’n vrou of twee aan die arm.
Hul besigheid is misdaad, maar nie dat jy dit nou sommer so sal agterkom nie, daarvoor word jy net te slim hier gefop. As jy val vir ’n goeie storie of die belofte van ’n groot avontuur, is jy ’n sagte teiken.
Wanneer die eksentrieke Penelope (Rachel Weisz) op die toneel verskyn en haar eensaamheid met dié van Bloom s’n resoneer, weet jy summier aan alle stories kom daar ’n einde. Bloom sal hom moet “bevry” uit sy syne, en daarvoor kan net hy die pen opneem. Hoe is die groot raaisel.
Die gegewe is hoogs komies, veral Penelope se aardige tydverdrywe en die swygsame Rinko Kikuchi, wat so stilweg verantwoordelik is vir die skouspelagtigste ontploffings. Daarby blyk die twee swendelaars se kulkuns net so moeiteloos te wees. Dit is asof jy nie omgee dat die twee broers jou so bedrieg nie.
Die prent speel soos towerkrag, met ’n onsigbare towenaar wat die een scenario ná die ander uit die hoed pluk.
Die regisseur Rian Johnson pak die verhaal episodies aan met geraamde skote tussen die “hoofstukke” en sorg vir ’n nostalgiese teruggryp na ’n tyd wat was.
Brody se digterlike melancholie is gevoelvol en in pas met Ruffalo se volgehoue nugterheid as die baasbrein. Die prent se dwars humor herinner aan The Darjeeling Li mited – jy weet nooit uit watter rigting jy geklits gaan word nie.
Johnson is bekend om ’n gans ander tipe rolprent genaamd Brick van 2005 waarin ’n tiener op die lyk van sy vermoorde vriendin afkom en self op ’n speurtog gaan met net vier woorde as leidrade.
Met The Brothers Bloom bewys hy weer as draaiboekskrywer én regisseur dat hy ’n storie aanmekaar kan sit. Die kyker word vir ou laas só lelik geflous dat jy die prent nie maklik vergeet nie en jy selfs ’n traan wegpink.
) Ouderdomsperk: 13 TG. Tydsduur: 109 minute.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |