|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() David Greg Harth knibbel so ’n bietjie in Man Eating.
Vermaak
Kuns kou aan sosiale kwessies
02/07/2009 08:13:40 PM - (SA)
Die New Yorkse kunstenaar en “mensvreter” David
Greg Harth het met LIZA GROBLER gesels oor sy tentoonstelling in Kaapstad.
Die New Yorkse kunstenaar David Greg Harth (of Harth – soos hy verkies om genoem te word) is tans in Kaapstad vir ’n tentoonstelling by blank projects. Dié tentoonstelling, Man Eating, vertoon ’n aantal tandheelkundige afdrukke en twee videowerke waarin onderskeidelik ’n swart en wit man geëet word. Die man wat geëet word, laat dit gelate toe en skyn onaangeraak te wees deur die verrigtinge. Ofskoon die aanslag humoristies is, maak die volgehoue kou-aksies die kyker toenemend meer ongemaklik – veral in die lig van Suid-Afrika se komplekse rasseverhoudinge.
Hoe het Man Eating as konsep en titel van jou tentoonstelling ontstaan?
’n Swart vriend van my, ’n rekenaarprogrammeerder, het jare gelede voorgestel dat ek ’n werk met ’n wit en swart man maak. Na aanleiding van sy opmerking ontstaan What Ate That Black Man? toe in 2007. Die titel het eers in my kop kom sit. Ek het die videowerk daarna geskep om dit visueel te vergestalt. Daar is twee karakters, black man 1 en black man 2, maar een is wit en een is swart. Ras, mag en seksualiteit word aangespreek deur ’n eenvoudige gebaar: die kou-aksie! Die werk is vertoon by ’n filmteater in New York waar mense noodwendig die ses minuut lange video van begin tot einde moes kyk. Aanvanklik het hulle gelag, maar geleidelik het hulle toenemend ongemaklik geraak.
. . . en Black Eating White?
Toe blank projects my nooi om die werk daar uit te stal, wou ek graag ’n opvolgwerk skep wat hierby kon aansluit. Maar die werk moes ook alleen kon staan. Die fokus is hier spesifiek op die mond en die klanke wat daarmee saamgaan. Ek wou die interaksie tussen die twee karakters beklemtoon eerder as die fisieke teenwoordigheid van hul liggame. Ras en seksualiteit is nie die hoofsaak nie, maar tog is dit wat baie mense eerstens daarin lees.
Is die meeste van jou werk vertoonkuns?
“Ek skryf ook gedigte en daar is oor die 1 000 gedigte op my webtuiste. Ek wil graag in die toekoms ’n klein digbundel / kunswerk-boekie druk. Ek fokus wel tot ’n mate op vertoonkuns, maar ek maak ook tekeninge, drukwerke . . . watter medium ook al sinvol is om die konsep te onderstreep. Een van die projekte waarmee ek byvoorbeeld al vir jare besig is, is die Holy Bible-projek.”
Vertel meer hieroor – ’n projek wat 20 jaar duur?!
Aanvanklik het dit begin met U2. Ek was op pad na hul konsert in 1997 en wou iets interessanter as ’n CD-omslag saamneem. Ek was bewus daarvan dat hulle ’n sterk Katolieke agtergrond het en het daarom besluit om hul te vra om in ’n Bybel te teken. Terwyl ek by die konsert was, het ek verskeie bekendes in die gehoor opgemerk. Christian Slater het onder meer my Bybel geteken. Sederdien het meer as 1 000 mense al deelgeneem. Ek beoog om met die projek vol te hou tot 2017.
Hoe word deelnemers gekies?
Mense wat my lewe aangeraak het . . . heelwat bekendes, sommige word voorgestel deur vriende. Daar is ook baie kunstenaars ingesluit wat nie noodwendig aan almal bekend is nie, maar dis mense vir wie ek respek het.
Beplan jy enige nuwe projekte?
Ja, twee optredes in New York: D-train wat in verskillende trokke op die trein sal plaasvind, en Chambers Cut vir die hoek van Church- en Chambersstraat in New York. Laasgenoemde het te make met ’n bajonet en die moontlikheid om my keel te sny. Ons hoop hy oorleef dit!
) Man Eating is tot 24 Julie te sien. Skakel 0 072 507 5951. Besoek ook www.DavidGregHarth.com en www.TheHolyBibleProject.com.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |