|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Ismail Mahomed
Vermaak
Kunstefeeste is geen luukse nie
01/07/2009 07:05:31 PM - (SA)
Die Nasionale Kunstefees in Grahamstad begin vandag, en vanjaar staan die nuwe feesdirekteur, Ismail Mahomed, vir die eerste keer aan die stuur. WAYNE MULLER het met hom gesels.
Ismail Mahomed se kalm stemtoon verklap eintlik ’n rustige angstigheid; ’n versigtige opgewondenheid omdat hy die leisels van Suid-Afrika se grootste kunstefees nou met albei hande moet vashou.
Ons gesels drie dae voordat die Nasionale Kunstefees in Grahamstad begin, en selfs oor die telefoon hoor jy ’n ligte geritsel van ’n miernes in die agtergrond. En jy kan jou indink dat buite in Grahamstad se strate hang ’n geur van die boheemse terwyl plakkate van elke opvoering vasgegom word op al wat muur is.
Mahomed deel dié opgewondenheid, maar jy kom vinnig agter dat hy hom nie deur die geestige gebeure laat opsweep nie; eerder klink hy selfversekerd, positief en gefokus – duidelik in beheer van die land se oudste kunstefees wat 20 jaar lank onder Lynette Marais se leiding gestaan het.
Toe Mahomed verlede jaar as die nuwe feesdirekteur aangewys is, was daar positiewe reaksie, want met sy jare lange loopbaan in die kunste, kom hy met genoeg ondervinding: Hy is kunstebestuurder, skrywer, dramaturg, kritikus en kommentator. Met sy aanstelling het hy gesê “om vir die Grahamstadse Nasionale Kunstefees te werk, is ’n droom van enigiemand wat by die kunste betrokke is – dis die een plek waar die polsslag van die stand van ons land se kuns gemeet kan word”.
Gesels jy met hom, kom jy agter dit was nie ydele woorde nie, want dis werklik sy visie om dié kunstefees een van die grotes op die internasionale kringloop te maak. Maar eers rus vanjaar se fees op sy skouers.
“Ek is baie opgewonde. Dit voel soos die geboorte van ’n eerste kind. Ek ervaar geweldige entoesiasme en ondersteuning. Alles is nou in plek en die fees moet net begin,” sê Mahomed.
Dis ’n moelike taak om by iemand soos Marais, wat soveel jare aan die stuur was, oor te neem. “Ja, maar al wat ek voel, is daardie entoesiasme. Almal ondersteun my. Ek het van die begin af gesê ek wil nie die fees heruitvind nie. Maar daar is nuwighede wat ons bygewerk het.”
Vanjaar word die gesproke woord deel van die hooffees, en so ook is rock deel van die hooffees se musiekprogram. Mahomed noem ook dat daar vanjaar ’n groot teenwoordigheid is van kunstenaars uit ander Afrika-lande: Botswana, Angola en meer noord. “Die fees moet werklik ’n Afrika-voetspoor hê.”
Tog is ’n groter “internasionale voetspoor” ook vir hom belangrik, met vanjaar Belgiese en Franse kunstenaars wat optree. “Die kunstefees word dus ’n mark waarna buitelandse vervaardigers kan kyk om ons werk en talent ook elders te neem. Ons moet egter ons Suid-Afrikaanse karakter en inhoud behou,” voeg hy by.
Wat Mahomed wel wil behou, is die Grahamstad-fees se reputasie as die land se voorste kunstefees. “Dis wat ons met ons nuwe handelsmerk poog; dat die fees altyd vars is.” Ook dat die fees aan almal iets bied.
Maar goeie bedoelings is een ding, want met ’n ekonomie in resessie word dit al hoe moeiliker om gehore te oortuig om geld op vermaakkaartjies te bestee, en boonop het talle borge in die afgelope jaar hulle aan die kunste onttrek, of hul bydrae daartoe verminder. Hoe staal Mahomed hom en die fees daarteen?
“Ons bied ’n program aan wat gehore stimuleer, en vind dat hulle wel daarop reageer. Ons bemark die kunste as ’n leefstyl, en dat ’n besoek aan die fees ’n uitbreiding is van mense se leefstyl. Gehore moet die fees ervaar as iets wat deel is van hul lewe,” sê hy, want dis nie verniet dat die fees bemark word as “10 days of amazing” nie.
Terwyl veral Afrikaanse kunstefeeste begin ly het onder borge wat onttrek, is die Grahamstadse fees nog gelukkig om sy borge te behou, soos die hoofborg Standard Bank. “Nuwe en kleiner borge het ook aanboord gekom. Ons skep ook spesieke areas wat byval sal vind by spesifieke borge (omdat dit hul mark verteenwoordig),” sê Mahomed.
Entoesiasties en positief oor vanjaar se fees bly Mahomed gewis te wees, want soos hy gesê het, is hierdie werk vir hom ’n droom. Maar wat is sy grootste uitdaging vanjaar? “Alles is nou in plek; ons het passievolle mense met goeie vaardighede wat alles vlot sal laat verloop. Ons hoop nou net die weer speel saam . . .”
) Die Nasionale Kunstefees in Grahamstad duur tot 11 Julie.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |