|
|||||||||||
|
| VIND: |
Trix PienaarFoto: GARTH STEAD Foto: Garth Stead
Vermaak
Trix Pienaar vertel haar kontreistories
01/07/2009 07:04:52 PM - (SA)
Kaapstad. - Trix Pienaar is afgetree. Soos van hierdie oomblik af.
Van 17 tot 70 het sy gewerk. Nou is daar boeke om te lees en musiek om na te luister. Sy wil skryf en net te leef.
As dit nou net nie vir hierdie “koekiesbak-ding” was nie . . .
“Mens, ek sit nou soos ’n voël in ’n hok. Dis ’n sirkus hier by my. Jy kan nie glo watter nommerplate alles hier by my huis stilhou nie.
“Hulle neem my huis af. Ek moet eintlik my hortjies toetrek. Dit maak my witwoedend.”
Dis nou na aanleiding van ’n kosmaakprogram waarin sy onlangs op die televisie was.
Of sy dit nou wil weet of nie, mense wil weet van Trix Pienaar.
Die beste manier om meer te wete te kom is nie deur haar in haar huis te bekruip nie, maar om na haar optredes te gaan. Al is sy nou “afgetree”, vertel sy nog haar Kontreistories as iemand haar vra. Vanaand om 20:00 vertel sy hulle in Die Boer in Durbanville.
“Dis eintlik meer omdat ek vir Gietie en Jurg en die babatjie wil sien,” verduidelik sy. Sy en Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla) het ’n besondere verhouding, amper soos ’n ma en dogter.
In Kontreistories vertel Pienaar van haar kinderdae in die Swartland, die karakters, die lief en leed van op die platteland grootword.
“Almal wat van die platteland kom kan met my stories identifiseer. Stadsmense dink dis s ó sweetie pie, maar dis maar net oor die onskuld( nie die onkunde nie, hoor) oor ’n plekkie waar almal met mekaar hand om die nek staan.”
Sy skryf tans aan ’n draaiboek vir ’n rolprent, vertel sy.
“Hierdie storie kom al lank saam met my. Ek hou van voor en vir die kamera werk. Dis so ’n eerlike medium. En as daar ’n lekker filmrol na my kom, vergeet ek sommer van die aftree.”
Ledig kan sy nie wees nie.
“Al sit ek net vir die see en kyk, dan is my kop altyd besig.”
En die mense?
“Ek hou van mense en van gesels. Dis vir my lekker om te weet wat in ander mense se koppe aangaan. Dis hoekom ek Kon treistories geniet. Dis soos om in jou sitkamer te sit en gesels. Maar dan moet dit die regte mense wees. Nie die agies nie.”
En die agies moet weet sy het almal in die omgewing gewaarsku oor wat met hulle gaan gebeur as hulle mense die pad na haar huis wys . . .
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |