|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Conor Lovett
Vermaak
TONEEL: First Love
30/06/2009 06:31:03 PM - (SA)
Toneel
First Love
Golden Arrow-teater, Baxter
’n Man in ’n broek wat hoogwater sit en deurgetrapte skoene, vertel van sy eerste liefde. Tere liefde was dit nie; dit blyk dat dit vir hom ’n verskrikking was. Dit was moontlik dan sy laaste amoreuse ervaring as jy hom so uitluister en betrag.
Want dis veral luister wat jy die sowat 70 minute in die Ierse akteur Conor Lovett se geselskap wíl doen. Luister veral na die Ierse dramaturg, digter en skrywer Samuel Beckett se woorde – die eenmanstuk is ’n dramatisering van een van sy vroegste kortverhale, “First Love”, wat in 1946 geskryf en eers in 1973 gepubliseer is.
Die gegewe wissel van hoogs vreemd tot absurd in ’n bittersoet, humoristiese verhaal van ’n hawelose man wat snags op ’n parkbankie slaap, sy erfgeld jare ná sy pa se dood steeds in sy baadjiesak.
Een nag ontmoet hy vir Lulu. Sy eerste liefde. Ons vermoed amper dadelik dat sy ’n vrou van die nag is; ons naamlose man sou later dié besef trotseer.
Die beheerste, minimalistiese vertolking van Lovett, luidens sy CV een van die wêreld se grootste Beckett-akteurs, laat Beckett leef – sy taal, andersoortige humor (“the canal flows, if a canal flows”) en seker greep op die mens en sy dinge. Die beskrywing “groot” pas Lovett as Beckett-vertolker. (Ralph Fiennes was voorheen in sy skoene in dieselfde rol). Dit is net hy op die verhoog en twee bankies teen die muur staangemaak. En hy hou die aandag.
Hy vergestalt met groot omsigtigheid ’n episode in die man se lewe, ’n besonder menssku man wat erken dat hy in ’n “dispeopled kingdom” woon met net sy vertwyfelinge en sy vertwyfelinge oor sy vertwyfelinge as geselskap.
Lovett se liggaamstaal is gepas soos dié van ’n trapsuutjies. Dit is asof hy sy hele liggaam oorhaal vir die volgende beweging, en dit dan steeds huiwerend doen. Sy woorde word net so versigtig geweeg, maar dan sekuur in ons midde geplaas. Sy verposings is in voeling met sy gehoor se moontlike respons.
Lovett en sy regisseur, Judy Hegarty Lovett (ook sy wederhelf), het hier ’n tydlose tref-produksie.
)Regie: Judy Hegarty Lovett. Tot 4 Julie.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |