|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Kesivan Naidoo, Standard Bank se Jong Kunstenaar vir jazz, gaan op ’n kort konsertreis na drie Afrika-lande. Foto: SUZY BERNSTEIN
Vermaak
Kesivan Naidoo speel in Afrika as deel van prys
28/06/2009 06:39:07 PM - (SA)
Johannesburg. - Die Standard Bank Jong Kunstenaar van die jaar-toekenning word vanjaar vir die 25ste keer toegeken. Om dié mylpaal te vier, het Standard Bank ’n vindingryke faset tot die bestaande prys gevoeg: Een van die kunstenaars van die jaar gaan voortaan die geleentheid kry om ’n kort reis na verskeie lande in Afrika te onderneem om sy of haar kuns daar bekend te stel.
Standard Bank doen tans sake in 18 Afrika-lande.
Dié inisiatief word gesteun deur die Franse Instituut in Suid-Afrika wat die reis moontlik maak deur Alliance Française in verskeie Franssprekende Afrikalande.
Volgens Denis Pietton, Franse ambassadeur in Suid-Afrika, kom dié steun nadat die Suid-Afrikaanse regering aangedui het dat hy Suid-Afrika meer aan Afrika bekend wil stel en andersom. “Dit voel net na die regte ding om op dié manier die werk te steun wat Standard Bank op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad al 25 jaar lank doen,” het Pietton gesê.
Standard Bank se Jong Kunstenaar vir jazz, Kesivan Naidoo, is aangewys as die eerste kunstenaar om die Afrika-lande te besoek. Naidoo en sy orkes, Babu, vertrek kort ná die Grahamstad-fees vir optredes in Nigerië, Ghana en Kenia.
Standard Bank se ander vier jong kunstenaars vir 2009 is Nicholas Hlobo (visuele kunste); Jacques Imbrailo (musiek); Ntshieng Mokgoro (drama) en Thabo Rapoo (dans).
Dié vyf moet werk voorberei vir die Nasionale Kunstefees, wat van Donderdag tot 11 Julie in Grahamstad aangebied word. Standard Bank se toekennings vir jong kunstenaars het deur die jare bygedra tot die ontwikkeling van jong kunstenaars wat later veel vermag het. Bowenal het die toekennings bygedra tot die bevordering van gelykheid en demokratiese waardes in ’n tyd toe sulke waardes nie wyd nagestreef is nie.
In 1985 het die dramaturg Maishe Maponya die dramaprys gekry en die tenoor Sidwell Hartman die musiekprys. Die eerste swart vrou wat die prys vir visuele kunste gekry het, was Helen Mmakgoba Sebidi in 1989. In dieselfde jaar is Johnny Clegg aangewys as jong kunstenaar vir musiek.
Besoek www.nationalartsfestival.co.za.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |