|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Cilna Marais saam met Bathembu Myira in iKAPA se Stadium. Foto: DERYCK VAN STEENDEREN
Vermaak
Cilna in die dansarena
28/06/2009 06:38:01 PM - (SA)
Cilna Marais is te sien iKAPA-dansteater se stuk Stadium, wat Donderdag in die Kunstekaap open. EDUARD GREYLING het haar daaroor uitgevra.
Cilna Marais het verlede jaar haar studies aan die Universiteit van Kaapstad se dansskool voltooi, en nou is sy op die verhoog in Stadium, deur die choreograaf Andile Sotiya wat in Pretoria gestudeer het en tans in Engeland woon.
Stadium is in 2003 met groot sukses in Engeland opgevoer met Theo Ndindwa en Tanya Arshamian, artistieke direkteurs van iKAPA, daarin. Nou dans Marias die hoofrol.
Beskryf die proses en verskeie idees agter die finale produk.
Die konsep van hoe stadions wêreldwyd, afgesien van sport, ook vir verskillende ander dinge gebruik word, soos begrafnisse en politieke byeenkomste, was die inspirasie. Andile het verduidelik hy het ’n sportbyeenkoms bygewoon, en besef hoe sport en dans kan ooreenstem. Afgesien van die gewone sitplekke sit daar ook mense aan weerskante van die verhoog en wanneer ons die verhoog verlaat, bly ons in sig van die gehoor. Ons vee die sweet af sodat mense dit kan sien, soos met sportmense.
Voordat ons begin, is daar ’n platejoggie op die verhoog met agtergrondmusiek terwyl ons ronddraf, al het ons natuurlik klaar ons intensiewe dansopwarmingsoefeninge gedoen. En terselfdertyd is daar ’n videoprojeksie van ons in die oefenlokaal. Een van die video’s wys my wat hardloop in Khayelitsha en Zandile (Constable, ’n mededanser) in Constantia, en die idee is dat ons na dieselfde plek hardloop, naamlik Groenpunt-stadion. Afgesien van die draad omheinings wat fisiek die gehoor van die dansers skei, word die muur agter gebruik as ’n plek waar die dansers vreesbevange staan asof hulle daar doodgeskiet gaan word.
Hoewel Stadium ’n kontemporêre stuk is, is die lede van die geselskap in hoofsaaklik klassieke ballet, en in ’n mindere mate kontemporêre danstegnieke, opgelei. Sou jy sê dat dit enige invloed kan hê op die uitvoering?
Op die video van die produksie in Engeland het ek agterkom dat die meeste dansers nie noodwendig balletdansers is nie. Ek dink Tanya en Theo is baie ernstig daarmee om ballet-opgeleide dansers in die geselskap te hê omdat hulle baie meer op netheid van lyn ingestel is en sodoende die vertoning goed kan afrond.
Die vierkantige platforms is multi-dimensionele voorwerpe wat, afgesien van doodskiste, ook die konsep dat niemand geïsoleerd kan funksioneer nie, uitbeeld. In die loop van die stuk word dit hindernisse, terwyl dit rondgestoot word en almal daar rondom dans. Toe ons die stuk begin instudeer het, het ons eers sonder die platforms geoefen. Die bewegings wat ons op en af van die platforms doen, is nogal gewaagd en dit was ’n aanpassing toe ons daarmee begin repeteer.
Hoe is dit om met Andile Sotiya te werk, en wat is sy verwagtinge?
Afgesien van groot dele wat spesifiek gechoreografeer is, is Andile redelik buigbaar in die sin dat die bewegings die danser moet pas. Soos byvoorbeeld die solo wat Tanya op een van die platforms doen, beeld ’n baie persoonlike en afgeslote deel van Andile se lewe uit, waar hy geworstel het met depressie, en selfs selfmoord oorweeg het. Daar is ’n sekere vryheid in die interpretasie waar Tanya kan besluit wat sy wil doen. Die solo wat Theo op ’n steil opdraande dans, simboliseer die hindernisse wat ’n mens in die lewe te bowe moet kom. Andile het die solo verwerk wat dui op ’n onlangse gebeurtenis in Theo se lewe waar hy verlede Kerstyd in ’n ongeluk betrokke was waarin die vier ander insittendes oorlede is. Andile het hom toegelaat en aangemoedig om nie sy emosies van hierdie ervaring te ontduik nie, maar dit wel positief te gebruik in die uitbeelding van sy beweging.
) Stadium word van Donderdag tot Sondag in die Kunstekaap-teater opgevoer. Bespreek by Computicket.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |