|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Rupa van Rupa & The April Fishes.
Vermaak
Te min sigeuners soos Rupa en dié visse
07/08/2008 07:24:55 PM - (SA)
Daar is te min sigeuners wat popmusiek maak. Daarom dat ’n mens talle musiekskatte wat oor landsgrense spoel op die musiekwinkels se rakke vir world music vind.
Soms is die musiekmakers gelukkig en gebeur iets wat die musiekbase crossover noem. ’n World music-CD word ’n poptreffer, en dan weet niemand meer waar om dit te liasseer nie. Dink maar aan Gotan Project se tango-danse wat as lounge en triphop verkoop is en in byna ál die superkoel koffiekroeë en restaurante wêreldwyd gehoor is.
Rupa & The April Fishes gaan – as ek ’n voorspelling mag waag – op die lange duur selfs gewilder as Gotan Project word.
Dié groep musikante uit die San Francisco-baai-gebied in Kalifornië is soos ’n towertapyt van klanke, style, invloede en kulture.
Dit het begin met die groep se hoofsangeres, Rupa Marya, wie se ouers voor haar geboorte uit die noorde van Indië na die VSA verhuis het. As kind is Marya na haar grootouers in Indië, waar sy ’n laerskool bygewoon het, maar sy is later saam met haar ouers na die suide van Frankryk.
In Frankryk het mense geglo sy is ’n sigeuner of van Arabiese afkoms. Uiteindelik is sy met haar ouers terug na Kalifornië, waar sy tussen die lewe van ’n ballerina en die mediese wetenskap as loopbaan moes kies.
Musiek het haar hart verower, en sy het “mosaïek” – haar naam vir haar musikale verkenning – begin skep.
Die album eXtradOrdinary Rendition is Rupa & The April Fishes se debuut wat van ver inderdaad soos ’n muur vol musikale mosaïekteëltjies lyk. Hulle rits deur chansons, Indiese ragas (yaad), Argentynse tango’s, volbloed-sigeunermusiek en selfs folk en pop.
Die CD se bekoring lê in die verskeidenheid style wat met uitbundigheid en pure pret vermeng is om ’n heerlike konsertgevoel te behou. ’n Mens voel jy beleef die orkes in ’n klein, intieme kuierplek.
Party van die snitte, soos “C’est Pas de L’amour”, met sy trekklavier, trompette, tromme en fluitjie, gee ’n mens se verbeelding vrye teuels. Jy verbeel jou jy sit in ’n rokerige kroegie en skree luid saam met Rupa-hulle terwyl jy met ’n bierbeker die ritme op die tafel uitklop.
“Maintenent” is gegrond op ’n verouderde vorm van die tango – die Suid-Amerikaanse milonga. “La Peinture” gebruik die Mexikaanse huapango as inspirasie. Verbysterend.
Om die musiek van Rupa & The April Fishes te beskryf is eintlik onmoontlik. ’n Laaste leidraad sal dalk wees dat dit ’n samekoms van die klankbane van die rolprente Amelie en Frida is met ’n paar lande, orkeste en sangers tussenin.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |