|
|||||||||||
|
![]() Anna-Mart van der Merwe as die karakter Martie in Feast of the Uninvited.
Vermaak
‘Feast’ belig eis van oorlog
03/03/2008 09:03:43 PM - (SA)
SY huil langs die graf van haar kind, vergiftig bykans ’n soldaat, kryt haar man vir ’n oorloper uit en sweer wraak teen die Britte. Met haar vaalswart kappie styf om haar gesig, siniese trek om die mond en uitgesprokenheid ís Anna-Mart van der Merwe weekliks Martie van Wyk in Feast of the Uninvited.
Dié Anglo-Boereoorlog (ABO)-drama op M-Net is geskryf deur P.G. du Plessis en die regie is deur Katinka Heyns behartig. Die rolverdeling sluit ’n formidabele span akteurs in, met Van der Merwe wat een van die kragtoer-vertonings lewer.
Sy is allermins ’n groentjie wanneer dit kom by die vertolking van sterk vrouekarakters en het al gespeel in reekse soos Konings, Sonkring en Amalia. Sy het ook die naamrol vertolk in die rolprent Die storie van Klara Viljee.
“As speler raak jy baie lief vir al die karakters wat jy speel. Jy kry empatie vir hulle. Ek is bevoorreg dat ek al sulke wonderlike vroue kon wees,” vertel sy.
“Uit respek vir hulle kan ek nie ’n gunsteling kies nie. Maar dit was ’n groot eer om ’n karakter soos Martie te kon vertolk en ’n wonderlike uitdaging.”
Die rol van dié onverskrokke boervrou wie se bestaan weens die oorlog in duie stort, is nie die tipiese rol waarin Van der Merwe gewoonlik te sien is nie. Dit het die uitdaging om die rol te vertolk soveel te meer vergroot, meen sy.
“Martie se oortuigings en haar geloofsbasis is sterk. Sy reageer uit haar maag uit en ek moes daardie intensiteit vasvang,” sê Van der Merwe.
“Sy gaan nie ligweg deur die lewe nie.”
Dit het beteken dat Van der Merwe in alle opsigte moes deel word van haar karakter. As moderne Suid-Afrikaner was dit egter nie vir haar maklik om onder Martie se vel in te kruip nie en sy beskryf haar vertolking daarom as ’n reis.
“Ek het nie ’n direkte skakel met ABO-gebeure nie. Maar ’n karakter wat so intens leef, het my gehelp om déél te word van daardie tyd.”
Almal wat aan die reeks gewerk het, moes daarom ligvoets oor die grafte loop, sê sy skielik ernstig. “Daar het emosionele oorblyfsels by almal vasgesteek. Die ontsetting van enigiemand se lewe deur oorlog is baie ontstellend.”
Du Plessis se teks belig die oorlog, volgens Van der Merwe, vanuit ’n aantal perspektiewe. “Hy kyk na die impak daarvan op die lewens van die Afrikaanse vroue én mans van daardie tyd, maar ook na die impak daarvan op die lewens van die Britse soldate.”
Maar waarom nóg ’n ABO-drama? “Oorlog raak aan almal. Dit het ’n impak op ’n volk en nasie se identiteit,” sê sy. “Dit maak vir my sin dat mense wil vra hoe en waarvoor?”
“Afrikaners bevraagteken steeds hul identiteit en waar hulle vandaan kom. Daardie oorlog het ’n belangrike plek in die lewe van Afrikaanse mense.”
Sy hoop ook dié soort reeks sal mense laat nadink oor die “nut” van oorlog. “Voor oorloë word daar om ’n tafel gesit om oplossings te soek. As dit nie moontlik is nie, word bloed verspil. Maar almal eindig maar weer om die tafel op. Feast herinner ons dat niks goeds uit oorlog kan kom nie.”
Nog ’n spil waarom die reeks draai, is die lewe in die konsentrasiekampe. “Ons het daardie tonele met ontsag benader. Die mense was honger, hulle was koud.”
Die verfilming van die reeks op Standerton was boonop in die winter. “Dit het gehelp om op toneel te skiet, in die bitter koue, want dit het die gebeure baie werklik gemaak.”
Dit het ook bygedra tot die emosionele lading wat gedurende die verfilming ervaar is. “Ek het besef daardie vroue kon nie net in ’n kar spring en Woolies toe ry nie.”
Sy het groot lof vir die span wat aan Feast of the Uninvited gewerk het.
“Jou bakkies is dalk op die skerm, maar die oomblik hang nie net van jou af nie. Die teks is lank terug geskryf en dan is daar boonop die ongelooflike garderobe. Die manier waarop ander jou help skep aan jou karakter is ’n ongelooflike magiese proses.”
Sy vertel van een toneel waarin Martie amper ’n oorloper-soldaat vergiftig het. “Daar was ’n medisynekissie waar daar aan die fynste detail aandag geskenk is. Die rekwisietemaker het gedínk.” Dit het alles tot die reeks en haar karakter se egtheid bygedra, glo sy.
Heelwat kykers bevraagteken waarom die reeks in Engels verfilm is.
Maar Van der Merwe het ’n manier gekry om dié struikelblok te oorkom en haar karakter Afrikaans te laat klink. Haar karakter se status, meen sy, impliseer dat sy allermins perfekte Engels sou praat.
“Ek het besluit om Engels te praat, asof dit Afrikaans is. Ek het die taal ritmies, in tekstuur en in terme van uitspraak aangepas om dit soos Afrikaans te laat klink,” sê die aktrise wat kykers reeds jare lank met haar weldeurdagte spel aangryp.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |